Die Voortrekkers in Natal, 1838 

Kerkenberg 

Op 21 Oktober 1837 in die omgewing van die Kerkenberg-terrein het die Retief-trekgeselskap uitgespan en daar vertoef terwyl Retief en ‘n paar manne op sy eerste besoek na Natal vertrek om grondonderhandelinge met Koning Dingaan aan te knoop.  

Op 11 November 1837 ontvang die Retief-geselskap die blye nuus oor Retief se onderhandelinge met die Zoeloekoning Dingane. Retief se dogter, Debora, skryf op 12 November 1837 (haar vader se 57ste verjaardag) sy naam en verjaardagdatum met groen olieverf op ‘n oorhangende rots waar eerwaarde Erasmus Smit vir die Voortrekkers kerk gehou het, vanweë die naam Kerkenberg.  

Op 13 November het die geselskap Kerkenberg verlaat en suid-oos op die rand van die Drakensberg getrek. Op 14 November het hulle die hele dag lank teen die berg afgetrek deur wat vandag as Retiefpas bekend staan. 

Port Natal 

Retief glo dat Natal die ideale bestemming vir die Voortrekkers is, want dit bied geleenthede om internasionaal handel te dryf. Hy kom teen die middel van Oktober 1837 op Port Natal aan en word baie hartlik verwelkom deur Engelse handelaars. Retief vra vir koning Dingaan per brief om hom te ontmoet en verduidelik die doel van sy besoek. Toe hy sy reis teen die einde van Oktober teen die kus langs na koning Dingaan voortsit, vergesel Thomas Halstead hom as tolk. Op 5 November 1837 ontmoet Piet Retief die Zoeloekoning terwyl ‘n sendeling, eerwaarde Francis Owen, die verloop dophou van sy sendingstasie ‘n entjie weg.  

Koning Dingaan het aan Retief genoem dat van sy beeste gesteel is deur ‘n berede kommando wat Westerse klere gedra het. Koning Dingaan het die streek tussen die Thukela- en Mzimvuburivier aan die Voortrekkers belowe indien Retief sy gesteelde vee aan hom sou terugbesorg. Retief het, heeltemal korrek, vermoed dat die eintlike diewe die Tlokwa onder Sekonyela was en onderneem om koning Dingaan se vee vir hom terug te haal. Retief het sonder moeite en sonder enige bloedvergieting koning Dingaan se nagenoeg 700 beeste afgeneem en teruggevat. 

Umgungundlovu 

Retief vertrek op 25 Januarie 1838 na Dingaanstat (Umgundgundlovu) met sewentig vrywilligers, insluitende sy eie seun en nog drie minderjariges, asook dertig agterryers. 

Onbewus van Koning Dingaan se wantroue teenoor die Voortrekkers in Natal, kom Retief en sy manskappe op 3 Februarie 1838 by Umgundgundlovu aan. Omdat Retief oortuig is van die koning se goeie bedoelinge vertoef hulle nog ’n paar dae nadat koning Dingaan die traktaat, gedateer 4 Februarie 1838, onderteken het waarin hy ten gunste van Retief en die Voortrekkers afstand doen van die gebied tussen die Tugela- en die Umzimvuburivier wes van die land van die Zoeloes, en noordwaarts van die see tot so ver as wat dit vir hulle bruikbaar is. Retief verkeer onder die indruk dat 5 Februarie ‘n Sondag is en besluit om eers op 6 Februarie 1838 te vertrek. 

KwaMatiwane 

Retief en sy geselskap het op die punt gestaan om te vertrek toe koning Dingaan hulle ontbied om hom te kom groet. Soos gebruiklik is, het hulle ongewapend voor die koning verskyn, saam bier gedrink en na ‘n vertoning van die dansende krygsmanne gekyk. Skielik het koning Dingaan ‘n bevel gegee dat die “towenaars” doodgemaak moet word. Die Voortrekkers en hul agterryers is na die galgheuwel, Kwa-Matiwane (vernoem na een van Koning Dingaan se vyande wat daar doodgemaak is, die hoof Matiwane), gesleep, vermoor en aan die aasvoëls oorgelaat. 

Volgens Zoeloe-oorlewering het koning Dingaan die Voortrekkers se maklike oorwinning oor Mzilikazi se Ndebele, hul behendige ruitery, akkurate skietwerk en vindingryke wyse waarop Sekonyela uitoorlê is, as toordery beskou. Zoeloetradisie lui voorts dat dit die rede is waarom koning Dingaan die Voortrekkers se dood beveel het met die woorde: “Bulalani abatagai!” (”Maak dood die towenaars!”) 

Retief se moord op 6 Februarie 1838 is waargeneem deur sendelinge. Hulle het in Britse en Kaapse koerante daaroor verslag gedoen. Op die moordkoppie KwaMatiwane is ‘n monument opgerig met die name van Retief en sy manskappe. Aan die voet van die koppie is die massagraf waar Pretorius op Kersfees 1838 die oorskot van Retief se geselskap begrawe het. 

Bloukrans 

Na die dood van Piet Retief en sy manne by Kwa-Matiwane het die Zoeloes ’n verrassingsaanval geloods teen die verspreide Voortrekkerlaers aan die Boesmans- en Bloukransrivier. Langs hierdie twee sytakke van die Tugelarivier en tot verdere vertakkinge soos die Mooirivier het talle Voortrekkerfamilies op Retief se terugkoms gewag.  

In die nag van 16 Februarie en die vroeë oggendure van 17 Februarie het duisende Zoeloekrygers die niksvermoedende Voortrekkergesinne aangeval terwyl hulle geslaap het. Die eerste mense wat aangeval is, was dié aan die Boesmans- en Bloukransrivier waar geen laers getrek was nie. Die sou later as Moordspruit bekend staan. Die verrassingselement was daarmee heen en die Zoeloes het met hulle terugtog duisende stuks vee van die Voortrekkers meegevoer. 

Die aanvalle op Retief se groepie en op die verspreide laers was ‘n groot terugslag vir die Voortrekkers. Saam met Retief en sy manne het 352 Voortrekkers, waaronder 41 mans, 56 vroue, 185 kinders (selfs babas wat in hul ma’s se arms was) en 282 van die bediendes, gesterf. In totaal is 634 mense dood. 

Dit staan vandag bekend as die Groot Moord by Bloukrans en Weenen en die monument wat op 16 Desember 1895 onthul is, is een van die oudste Voortrekkermonumente in Suid-Afrika. Die stoflike oorskot van die vermoorde Voortrekkers is daar in ‘n gemeenskaplike graf begrawe. Hierdie monument is die eerste monument in Suider-Afrika vir slagoffers van geweld. Gerrit Maritz se oorskot is later ook hierheen verskuif. 

Italeni 

In reaksie tot die moord op Piet Retief, die manne wat saam met hom gesneuwel het, en die moorde by Bloukrans, is ‘n strafekspedisie van stapel gestuur.  

Piet Uys en Hendrik Potgieter het met hul vegkommando’s vanaf Winburg die ontredderde Voortrekkers in Natal te hulp gesnel. Altesaam 347 man het op 6 April 1838 die Zoeloes by Italeni ontmoet. Die Zoeloes het die niksvermoedende Voortrekkers in ‘n lokval gelei. Voor die aanval het die twee leiers teenoorgestelde standpunte ingeneem. Uys wou aanval en Potgieter nie. Uys was baie vinnig omsingel deur die Zoeloes wat in die bosse weggekruip het en alhoewel Potgieter aan die aanval deelgeneem het, het hy gou besef dat die geveg nie gewen sou kon word nie. 

Tydens die Slag van Italeni het ‘n Zoeloe-assegaai Uys gewond. Dit was gou duidelik dat hy sou sterf, maar Uys het enige hulp van sy manne van die hand gewys. Hy was bang dat hulle ook gewond of gedood sou word en hulle beveel om hom te los en tot veiligheid te ry. ’n Ent verder het Piet Uys se seun, Dirkie Uys, wat toe vyftien jaar oud was, besluit om terug te draai en sy pa te gaan red. Die jong held het reguit op die vyand afgestuur en drie Zoeloekrygers doodgeskiet tot hy uiteindelik oorweldig is deur Zoeloes en ook doodgemaak is aan sy pa se sy. 

Potgieter het sy manne tot veiligheid gelei en is na die tyd veroordeel omdat hy nie gehelp het om vir Uys te red nie. Sy hele kommando van 150 man het as die Vlugkommando bekendgestaan. Hy het daarna teruggekeer na sy plan om na die Hoëveld te trek en het Natal verlaat. 

Andries Pretorius 

Die jaar 1838 het die een na die ander rampspoedige gebeurtenis vir die Voortrekkers gebring. Skielik was hulle sonder hul vernaamste leiers, want nie alleen het Retief en Uys albei gesterf nie, maar Potgieter het teruggetrek oor die Drakensberg en Maritz is op 23 September 1838 oorlede. Die jaar het wel ‘n positiewe wending geneem toe Andries Pretorius in November 1838 in hul laer aangekom het. Al hoe meer mense het ook in die voorafgaande weke van oral uit die Transoranje en die Kaapkolonie opgedaag om die Voortrekkers se getalle te versterk. 

Op 22 November het hy by die Voortrekkers se hooflaer aan die Klein-Tugela aangekom. Hier is hy dadelik as hoofkommandant van die strafkommando (later Wenkommando genoem) teen Koning Dingaan aangewys. Twee dae later het hy met sy kommando noordoos in die rigting van Zoeloeland vertrek. Op pad het die Voortrekkerleier Karel Landman met sy volgelinge by hulle aangesluit, sodat hulle uiteindelik  464 man sterk was. 

Pretorius het die veldtog met groot deeglikheid beplan. Onderweg het hy die idee van ‘n gelofte met sy kommandante en manskappe bespreek en goedkeuring daarvoor gekry. Gevolglik het Sarel Cilliers die gelofte in ‘n gebed op Sondag 9 Desember 1838 by die huidige Wasbankspruit, afgelê en daarna tot en met die botsing met die Zoeloes, elke aand herhaal.

Die Zoeloeleër in 1838 

Die Zoeloeleër vind sy oorsprong in Shaka, Koning Dingaan se half-broer en voorganger. Onder Shaka (1781-1828) het die Zoeloeryk gegroei van verskeie kleiner stamme tot een magtige militêre nasie. Deur sy verowerings het hy sy klein staatjie tot ‘n groot koninkryk opgebou. Die grondgebied wat onder Shaka, en na hom Dingaan, deur die Zoeloeryk beheer was, het gestrek vanaf Pongola in die noorde tot oorkant die Tugela in die suide (naastenby so groot soos Portugal). 

Teen 1838 het die Zoeloeleër uit 36 regimente bestaan met ‘n gemiddeld van 900-1000 Zoeloekrygers per regiment, dus was dit ‘n mag van bykans 36 000 soldate. Die Zoeloeleër was die sterkste en mees gevreesde mag in Afrika. 

Die Zoeloekrygers het kaalvoet gehardloop om vinniger te kan beweeg en het elkeen ‘n werpassegaai, ‘n kort steekassegaai en ‘n beesvelskild gehad. Krygers wat met skoon assegaaie (sonder bloed) of sonder assegaaie teruggekom het, was as lafhartig beskou, en is doodgemaak. 

Wanneer die Zoeloeleër hul vyand aangeval het, het hulle hulself in ‘n aanvalsformasie rangskik wat die kop van ‘n bees voorgestel het. Die twee horings van die bees het bestaan uit die jonger krygers wat gretig was om hulself tydens ‘n geveg te kan bewys. Die kop het uit die meer ervare krygers bestaan met die ouer veterane wat heel agter die borsgedeelte gevorm het. Sou dit blyk dat die Zoeloes die geveg gaan verloor, was dit die veterane se taak om te keer dat die jonger krygers terugval. 

Die Gelofte 

Die Gelofte is deur die Voortrekkermans onder bevel van Andries Pretorius tussen 9 en 15 Desember 1838, voor die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838, afgelê. 

Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde om ‘n gelofte aan Hom te doen, dat, as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ‘n dankdag soos ‘n Sabbat tot sy eer sal deurbring, en dat ons ‘n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte. Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee. 

Die Slag van Bloedrivier 

Andries Pretorius en sy burgers het ‘n strafekspedisie beplan teen die Zoeloes met 64 waens, 500 perde en 900 osse, en ‘n kommando van 464 manne. Hulle het teen ‘n mag gestaan van tussen 16 000 en 20 000 Zoeloekrygers en het ‘n Gelofte afgelê om God se hulp en beskerming te vra. 

Terwyl die kommando deur Zoeloeland beweeg het, het hulle op 15 Desember berig ontvang dat die Zoeloe-hoofmag in hul rigting op pad was. Op die westelike oewer van die Ncomerivier het Pretorius sonder versuim ‘n laer laat trek. Die laer se ligging was strategies goed gekies, in ‘n hoek tussen die rivier en ‘n diep sloot. In teenstelling met die vorige nag se digte mis, was Sondag 16 Desember ‘n helder sonskyndag.  

Kort ná sonsopkoms het die Zoeloekrygers onder aanvoering van Nzobo (Dambuza) en Ndlela herhaaldelik die laer bestorm, maar die Voortrekkers het telkens daarin geslaag om die aanvalle te stuit. Ná sowat twee uur het Pretorius die hekke van die laer laat oopmaak sodat die perderuiters die Zoeloekrygers kon bestorm. Die ruiters is twee keer na die laer teruggedryf, maar toe hulle ‘n derde keer uitstorm, het die Zoeloes op die vlug geslaan. 

Slegs drie Voortrekkers is gewond, terwyl meer as 3000 Zoeloekrygers gesterf het. Bloedrivier was ‘n ernstige terugslag vir die Zoeloes, maar hul mag is daardeur nie gebreek nie. Pretorius het sy Wenkommando verder laat beweeg na Ungungundlovu, sowat 60 km suidoos van die slagveld. Daar het hulle op 20 Desember ‘n afgebrande en verlate stat aangetref. Hulle het voorts op die koppie KwaMatiwane op die oorskot van Retief en sy manne afgekom, asook op die erg verweerde leertas waarin die Retief-Dingaan-traktaat nog was. Die oorskot van die vermoorde Voortrekkers is op Kersdag, 25 Desember 1838 saam in ‘n gemeenskaplike graf begrawe. 

Die vier wonderwerke 

Die fokus val op vier wonderwerke wat vir baie Afrikaners, oor geslagte, steeds ‘n getuienis van die Here se redding is:

  • Die oormag van ongeveer 16 000 Zoeloes teen 464 Voortrekkers. Dit word uitgebeeld op ‘n muurpapier waarop 16 000 skilde geteken is. Erkenning word aan die agttien Zoeloe-regimente, wat by Bloedrivier geveg het, gegee deur skildvelle met elke regiment se naam op.
  • Die flou lanternlig op die walaer wat ‘n nagaanval verhoed het. In die aandtoneel word gefokus op die Gelofte en Geloftepsalm as belydenis van afhanklikheid.
  • Sonsopkoms. ‘n Helder dag na digte, klam mis en ‘n week van swaar reën.
  • Daar word bereken dat ongeveer 48 000 werpassegaaie op die laer neergereën het en nie een Voortrekker is dood nie.

Die Geloftekerk 

In Februarie 1839, is driehonderd erwe in die huidige Pietermaritzburg oopgestel. Sarel Cilliers het hom beywer daarvoor dat die Geloftekerk – soos ook in die Bloedrivier-Gelofte genoem word – in Pietermaritzburg opgerig moet word. Dit het toe ook so gebeur en die Geloftekerk is in 1841 voltooi. 

In 1912 is ‘n enkeltema-museum, naamlik die Voortrekkermuseum, by die Geloftekerk daargestel, waar voorwerpe uit die Voortrekkertydperk uitgestal en die geskiedenis van die Groot Trek vertel is. Sedert die 1990’s het die museum na ‘n multikulturele museum verander met die oorspronklike Voortrekkerkompleks as deel van die groter museum. Die museum staan tans bekend as die “Msunduzimuseum, waarby ingelyf is die Voortrekkerkompleks.”